Herontdek die Christelike Werksetiek PDF Print E-mail
Luiheid! Traagheid! Afwesigheid!
Korrupsie! Verduistering! Diefstal! Stakings!

Bogenoemde is sommige van die, huidige, alledaagse woorde wat die krisis in al hoe meer van die werkplekke op ons vasteland beskryf. As hierdie rampspoedige neiging nie dramaties omgekeer word nie, sal die ekonomie uiteindelik ineenstort. Die onvermydelike resultaat daarvan om die produktiwiteit van die ekonomie te ondermyn, word gesien in die toenemende armoede en wydverspreide werkloosheid. Wat nodig is, is dat ons mense die Christelike werksetiek moet herontdek.

In die heel begin van die geskiedenis, het God die mens geroep om te werk. God het werk ingestel voor die Sondeval. Werk is nie deel van die vloek nie. Adam was beveel om die tuin te bewerk en te bewaak voordat hy in sonde verval het (Génesis 2:15). Arbeid is ‘n Godgegewe verantwoordelikheid. Werk is nie ‘n vloek wat vermy moet word nie, dit is ook nie ‘n onwenslike aktiwiteit wat net wanneer nodig beoefen moet word nie. In die Bybel word ons beveel:

“Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie...”2 Timótheüs 2:15

Voor die koms van Christus, het die heidense nasies eerlike werk verag en dit aan slawe opgedra. Toe Christus gebore is, was die helfte van die bevolking van die Romeinse Ryk slawe. ‘n Driekwart van die bevolking van Athene was slawe.

Toe Lukas Athene besoek het, het hy opgemerk dat: “al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.” Handelinge 17:21.

Maar Jesus het ‘n omwenteling in arbeid gebring. Deur die byl, die saag, die hamer en die skaaf as ‘n skrynwerker op te neem, het ons Here aan arbeid ‘n nuwe waardigheid toegedig. Die Christendom het slawerny ondergrawe deur waardigheid aan arbeid te gee. Deur die hervorming van werk het die Christendom die hele sosiale orde getransformeer. Met die tyd het dit die vryemarkstelsel as ‘n gevolg gehad, wat ongeëwenaarde voorspoed en vooruitgang vir biljoene mense tot gevolg gehad het.

“Die hand van die vlytiges maak ryk.” Spreuke 10:4

God is ‘n arbeider. God het gewerk om die wêreld te skep en Hy werk om dit te onderhou. Hy is ook konstant aan die werk om Sy doelwitte in die geskiedenis en in die lewe van elke persoon te vervul (Filippense 2:13). Soos ons Here Jesus verklaar het: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook” Johannes 5:17.

God het sy werk “goed” genoem, en hiermee bevestig dat werk ‘n inherente waarde het. Werk is nie ‘n skande nie – die skande is ledigheid.

“Alreeds hy wat hom slap hou in sy werk, hy is ‘n broer van ‘n verwoester.” Spreuke 18:9

God het die mens na Sy beeld geskep as ‘n werker. Voor die Sondeval, het God aan mans en vroue die taak opgedra om om te sien na Sy aardse Skepping en om die tuin waarin hulle gewoon het te bewerk (Génesis 1:26-29; 2:8,15). Werk is ‘n geskenk aan ons. Deur verantwoordelikhede aan Adam en Eva op te dra, het God hulle belangrik en waardevol gemaak. Deur vlytig te werk het hulle die beeld van God uitgedra. Dit was die eerste vennootskap. Adam en Eva was geskep as medewerkers van God. God het die tuin geplant en die mens het dit bewerk. Alle wettige werk is ‘n verlengstuk van God se werk.

“... doen alles tot verheerliking van God.”2 Korinthiërs 10:31

Dit wil ongelukkig voorkom of baie Christene hierdie Christelike werksetiek verloor het. Die meeste mense leef onder die illusie dat God net besorgd is oor ons suiwer geestelike werk. Hierdie misverstand is gebaseer op hierdie vier verkeerde aannames:

Dat God net belangstel in mense se siele, en nie hul liggame nie.

Dat die dinge van die ewigheid van so ‘n oorweldigende belang is, dat dit alle dinge wat met die hede te make het uitsluit.

Die lewe is verdeel tussen die sekulêre en die geestelike.

Om ‘n predikant, evangelis of sendeling te word, is die enigste manier om God te dien.

Die Bybel wys ons egter dat God belangstel in die mens as geheel, nie in siele sonder liggame nie. Baie van Amy Carmichael se mede-sendelinge in Indië, het haar ywer om ‘n kinderhuis en skool te bou, as ‘n “wêreldse aktiwiteit” beskou wat haar aandag afgetrek het daarvan om “siele te red”, waarop sy geantwoord het: “Siele is min of meer stewig vas aan liggame.”

Die fabrikant wat die goedere verskaf, die vervoerder wat verspreiding verseker, en die winkeleienaar wat die item aan ons toeganklik maak is net so noodsaaklik in ons lewens as diegene wat elektrisiteit verskaf, die loodgieters en die padwerkers. Ons het die onderwysers, verpleegsters, polisiemanne, brandweermanne, posmanne, besigheidsmanne, sekretaresses, motorwerktuigkundiges en ander werkers nodig.

Wat aangaan in beide tyd en ewigheid is albei ewe belangrik vir ons Soewereine God. Deur God se medewerkers te wees, deur te sorg dat Sy fisiese, tydelike wêreld glad verloop is belangrik, en so ook om Sy medewerkers te wees in evangelisasie. Die ewigheid is ons uiteindelike bestemming en ons sal almal voor ons Almagtige God moet verantwoording aflê vir ons lewens op aarde. In die lig van die ewigheid moet ons vlytig werk op aarde. As God jou ontwerp het om ‘n argitek, ‘n skrynwerker of ‘n bouer te wees, bou dan geboue tot eer van God. Die kwaliteit van ons daaglikse werk moet getuie wees van ons geloof in Christus. Soos Martin Luther verklaar het: “’n Melkmeisie kan koeie melk tot eer van God.”

Vir Vervulling van die Groot Opdrag
Goeie werk wat goed gedoen is, is ‘n belangrike deel daarvan om die Groot Opdrag te vervul. God het alle Christene opdrag gegee om die Evangelie van Christus te verkondig. Ons getuienis moet nie net deur ons woorde uitgedra word nie, maar ook deur ons dade. Dit is nie net dit wat ons sê wat ons geloof uitdra nie – dit is dit wat ons doen. Ons woorde beteken niks as dit nie deur ons werke ondersteun word nie (Jakobus 2:14-26).

Die groot gebooie van Christus is dat ons God moet liefhê en dat ons ander mense moet liefhê (Markus 12:30,31). Een van die maniere waarop ons liefde vir God kan betoon is deur na Sy skepping om te sien – deur God se beeld uit te dra deur nuttige werk. En een van die primêre maniere om liefde vir mense te betoon is deur produktiewe werk te doen wat bydra tot hul welsyn.

Een van die beste illustrasies om in preke te gebruik is die daaglikse getuienis van ‘n Christen wat sy werk met integriteit en vlytigheid verrig. Wanneer ander ons besorgdheid oor beide mense en produkte sien, verdien ons hulle respek en hul belangstelling in wat ons motiveer.

Vir die meeste Christene is ons werksplek ons hoof sendingveld. Ons werk is nie sekondêr aan die maak van vriende en die verkondiging van die Evangelie nie. In werklikheid is die voltooiing van ons “sekulêre” werk op ‘n manier wat tot eer van God is, een van die kragtigste demonstrasies van die Evangelie. Deur betekenisvolle werk kan ons ons liefde vir God, Sy Woord en Sy mense bekend maak deur: mense te dien, aan ons eie behoeftes te voldoen, aan ons gesin se behoeftes te voldoen; genoeg geld te verdien om vrygewig teenoor ander te wees, gasvryheid te beoefen en om ons plaaslike kerke, liefdadigheidsorganisasies en sendings te ondersteun. Soos John Wesley geleer het: “godsdiens moet noodwendig beide ywerigheid en spaarsamigheid tot gevolg hê.” Wanneer ons besef dat God ons in ons werk geplaas het om Sy medewerkers te wees, by te dra tot sy skepping, lei dit tot ‘n gevoel van waardigheid en rigting in ons werk.

Die Skrif verklaar dat ‘n ywerige huisvrou en hardwerkende moeder die Here behaag en haar man verbly (Spreuke 31:10-31). ‘n Man wat versuim om vir sy gesin te sorg “het die geloof verloën en is slegter as ‘n ongelowige.” 1 Timóthéüs 5:8.Christene word beveel om te leer om hulself toe te wy “om vir die noodsaaklike behoeftes goeie werke voor te staan, sodat hulle nie onvrugbaar mag wees nie” Titus 3:14.

In die gelykenis van die talente, het Jesus ons geleer om Hom getrou te dien met die talente wat Hy aan ons sorg toevertrou het (Matthéüs 25:14-30). Christene moet werk sodat hulle aan ander kan gee: “Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het” Efésiërs 4:28. Om ‘n getroue werker te wees is ‘n kragtige getuienis aan buitestaanders: “... en julle eer daarin te stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het, sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is, en aan niks behoefte mag hê nie” 1 Thessalonicense 4:11-12.

Die Skrif is skerp daarin om God se afkeur aan luiheid op te teken:

“Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd. Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap? Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande vou om uit te rus! So kom dan jou armoede soos ‘n rondloper en jou gebrek soos ‘n gewapende man.”Spreuke 6:6-11

“Deur allerhande luiheid versak die balkwerk, en deur slapheid van die hande lek die huis.” Prediker 10:18

“Wat staan julle hier die hele dag ledig?” Matthéüs 20:6

Dit is ‘n skande om lui te wees (Spreuke 10:5). Lui mense vind verskonings om nie te werk nie (Spreuke 15:19; 26:13-16). Diegene wat lief is om te slaap sal arm word (Spreuke 19:15; 20:13).

“Ek het by die land van ‘n lui man verbygeloop en langs die wingerd van ‘n verstandlose mens, en kyk, dit was heeltemal toegegroei van die dorings, sy oppervlakte was oordek met brandnekels en sy klipmuur omgegooi... Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ‘n gewapende man.” Spreuke 24:30-34

Daarom het die Apostel Paulus geleer:

“Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie... maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie... maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel...Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”2 Thessalonicense 3:7-10

Op die oordeelsdag “(sal) elkeen se werk... aan die lig kom” 1 Korinthiërs 3:13.Jesus het geleer dat “... elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees” Matthéüs 20:26.

Die Ekonomiese Vrugte van Geloof
Dr. James Kennedy skryf in sy boek “What if Jesus had never been born?” die volgende waarnemings oor die rol van geloof in ekonomie: “Waarom het Amerika en, vir die grootste gedeelte, die Weste, sulke materiële oorvloed geniet? Waarom het sommige van die Asiatiese lande ook begin floreer nadat hulle ekonomiese idees van die Weste aangeneem het? As jy kyk na die arm lande regoor die wêreld, sal jy vind dat dit wat die Bybel sê waar is: hulle is wat hulle is oor wat hulle glo. “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy” Spreuke 23:7. Kyk na Indië, ‘n nasie wat stagneer het in sy armoede vir verskeie millenniums. Waarom? Oor dit wat die mense glo. Sy Hindoe godsdiens leer dat daar geen realiteit aan materie is nie. Die eksterne, sienbare wêreld is onwerklik daarom, probeer jy nie om die onwerklike wêreld reg te maak nie; jy probeer daarvan ontvlug. Gevolglik sterf vooruitgang. En die geloof in reïnkarnasie het ook ‘n vernietigende effek op die nasie se armoede gehad. Of kyk na Noord Afrika, wat vir honderde jare versink is in armoede, bygeloof en onkunde. Waarom? Oor dit wat die mense glo. Die fatalisme van Islam het die Moslems weerhou van vooruitgang omdat menslike inisiatief absoluut niks kan bereik nie, en omdat alles wat is deur Allah voorbestem is; daarom bly hulle in aanhoudende stagnasie of oorweeg die baie nasies van die Ooste (voor die Westerse invloed), wie se godsdiens Boeddhisme is, wat leer dat die lewe onherstelbaar boos is en nie verander kan word nie. Die mense se enigste hoop is om homself vry te maak van alle begeertes vir enige verbetering in hierdie lewe. Die doelwit is nie ‘n meer oorvloedige lewe nie, maar sy uitsterwing en absorpsie in die wêreld-siel en so word die wortels van sosiale verbetering afgekap. Dit is nie die geval met die nasies wat ‘n Christelike basis gehad het nie, veral nie wanneer hulle ‘n meer Bybelse interpretasie van ekonomie toegepas het nie.”

Baie mense sal verbaas wees om uit te vind dat daar in die Bybel meer as 700 verwysings na geld is. Byna twee derdes van die aangetekende gelykenisse van Christus handel oor die gebruik en hantering van geld. In die Tien Gebooie het God die grondslag gelê vir alle goeie ekonomie: privaat eienaarskap van eiendom. Die reg op lewe, vryheid en eiendom en die belangrikheid van die gesinseenheid as die basiese bousteen van die samelewing is uitgespel in Exodus 20.

Die gebooie, “Jy mag nie steel nie... Jy mag nie begeer nie” het miljoene gelowiges geïnspireer om hard te werk, betyds op te daag en om eerlik te wees. Die vryemarkstelsel het die hoogste lewenstandaarde op aarde sedert die Skepping gegenereer. Baie Christene kan getuig van die feit dat toe hulle Christene geword het, hulle begin floreer het. Eerstens, omdat hulle opgehou het om hulle geld te mors op alkohol, dobbel, sigarette, dwelms, prostitute, pornografie en ander verdorwenheid (1 Petrus 4:2-3).

In die tweede plek, het hulle begin om ‘n doel te hê vir hul lewens en werk, “En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” Kolossense 3:17.

Derdens, het Christene nuwe wysheid, inspirasie en krag van God (Jakobus 1:5, Filippense 4:13).

Vierdens, is Christene bevry van baie angste, bekommernisse en vrese wat so frustrerend en beperkend is (Filippense 4:6).

Die Effek van Sonde op Werk
Toe die mens teen God gerebelleer het, is die grond wat die mens moes bewerk vervloek, maar die taak om dit te bewerk was nie ‘n straf nie (Génesis 3:14-19). Om die sondige mens toe te laat om die verantwoordelikheid te kry om bietjie konstruktiewe werk te onderneem, was eintlik ‘n genade gawe. Die duiwel vind bose werke vir ledige hande, so produktiewe werk is in werklikheid ‘n beskerming teen die verval in selfs erger sonde.

Werkloosheid praat harder as woorde. Ledigheid is ‘n vyand van die siel. Ons ledige dae is Satan se besige dae. Soos C.H. Spurgeon gesê het: “Sommige versoekings kom na die vlytiges, maar alle versoekings kom na die wat ledig is.”

Sonde, maak werk egter moeiliker. Die lastigheid van werk is ‘n gevolg van die Sondeval. Die sondigheid van die mens lei tot misleiding, oneerlikheid, en agteruitgang wat die besigheidswêreld affekteer. Mense lieg, bedrieg, steel, laat mense te veel betaal, verspeel waardevolle tyd en geld, raak betrokke in korrupsie en lewer slordige vakmanskap. Dit gebeur gereeld dat Christene wat opreg wil werk met integriteit gedwing word om met onetiese verskaffers handel te dryf. Selfs Christene van integriteit moet dikwels hul eie sondige versoekings van luiheid, selfsugtige ambisie en trots beveg.

Baie mense in ons kultuur het van hulle werk ‘n afgod gemaak. In plaas daarvan om God se eer te soek deur saam met Hom te werk en ander te dien, probeer baie werkoliste en oor-ambisieuse individue die korporatiewe leer teen enige prys klim. In plaas daarvan om hul waarde daarin te vind dat hulle kinders van die Lewende God is, probeer hulle hulle waarde bewys deur finansiële voorspoed of loopbaansukses.

Tog word sukses in die lewe gemeet aan hoe getrou ons God, ons gesin en ons naaste liefhet – nie aan ons status by die werk nie. God beloon getrouheid. God stel meer belang in die motiewe van die hart, houding en integriteit van ‘n persoon as in sy uiterlike voorkoms en posisie.

Hoewel versigtige beplanning, doeltreffendheid en harde werk prysenswaardig is, kan niks onetiese werkspraktyke of die seermaak van mense regverdig nie. “Sukses” teen enige prys is ‘n seker resep vir mislukking. ‘n Man wie se kinders dwelms gebruik, wie se huwelik op die rotse is, wie se werknemers sy morele waardes verag, is ‘n mislukking in God se oë, selfs al is hy “suksesvol” in besigheid.

“Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?”Lukas 9:25

Tot Verheerliking van God
Dit sal vir elkeen van ons die moeite werd wees om in gebed ons motiewe vir werk te ondersoek. Sondige motiverings sal insluit: ‘n lus vir rykdom, status, respek of mag, om verantwoordelikhede by die huis te vermy, of om net ‘n salaris te kry sonder die nodige besorgdheid oor die kwaliteit van ons werk. Selfsugtige ambisie, gierigheid of agtelosige traagheid is ewe boos in die oë van God. Aan die ander kant, sluit motiewe wat God verheerlik die volgende in: die begeerte om aan mense se behoeftes te voldoen, om Christus te dien en te eer en om ons Skepper te verheerlik.

Dit is ons verantwoordelikheid om ons werk na die beste van ons vermoë te doen, uit liefde vir Christus en tot verheerliking van God. Soos die groot uitvinder Thomas Edison (wat die gloeilamp en vele ander dinge uitgevind het) gesê het: “Daar is geen plaasvervanger vir harde werk nie... ek het nooit iets wat die moeite werd was per ongeluk gedoen nie, ook het nie een van my uitvindings per ongeluk gebeur nie; hulle het gekom deur harde werk.”

‘n Woordeboek is die enigste plek waar jy sukses voor werk sal vind. ‘n Ledige lewe en ‘n heilige hart weerspreek mekaar. Verlossing is ‘n helm – nie ‘n slaapmus nie. Ons werk behoort ‘n gevolg te wees van ons toewyding aan God.

Die fondament vir ‘n werklik vry en voorspoedige nasie kan slegs in karakters, denke en lewens wat deur die Genade van God verander is, gelê word. Om suksesvol te wees, moet ‘n samelewing saamgestel wees uit eerlike burgers wat nie sal steel nie, ywerige mense wat hardwerkend en produktief is, medelydende gesinne wat oor hul bure besorgd is, verantwoordelike werkers wat hul pligte sal doen en getroue diensknegte van openbare hulpbronne sal wees.

Vir nasies om sterk te wees, moet die gesinne sterk wees. Vir regerings om goed te wees moet hulle burgers goed wees. Hulle wat hulself nie kan beheer nie, is nie geskik om oor ‘n stad te regeer nie (Spreuke 16:32). Hulle wat nie hul huishoudings goed kan bestuur nie is nie gekwalifiseerd om ander te lei nie (1 Timótheüs 3:4-5).

Vir hierdie rede moet die boodskap van “bekering en vergewing van sondes in Sy Naam verkondig word aan al die nasies.” Lukas 24:47

Die Kerk moet “dissipels maak van al die nasies... en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” Matthéüs 28:19-20.

Dit is nodig dat elkeen van ons:

“verander (word) deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte Wil van God is.”  Romeine 12:2

Dr. Peter Hammond
Livingstone Fellowship
Posbus 74 Nuweland 7725
Kaapstad South Africa
Tel: 021-689-4480
Faks: 021-685-5884
E-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Web: www.LivingstoneFellowship.co.za
 
Copyright © 2017. Frontline Fellowship. Powered by joomla
S5 Logo